Die tweede ja-woord

Die tweede ja-woord

Net voordat alles weer terugkeer na normaal in die nuwe jaar, laat weet Riaan vir Adelle dat hy haar vir oulaas wil bederf met ‘n spa-dag by Glenburn Lodge in Muldersdrift sodat sy ontspanne en reg is vir die nuwe werksjaar.

Met hul aankoms kry hulle ‘n boekie met inligting oor die omliggende gebiede en aktiwiteite wat daar is om te doen. Onmiddellik vra Adelle baie opgewonde vir Riaan of hulle lugballon gaan ry die volgende dag en Riaan verduidelik toe dat dit baie duur is en dat hy belowe om haar eendag daarmee te bederf. Tydens aandete moes Riaan maar bieg, want dié van julle wat vir Adelle ken, weet sy hou van haar slaap en daar moet ‘n BAIE goeie rede wees dat sy 03:00 daardie oggend moet opstaan. Dit is bevestig: Hulle gaan lugballon ry en hulle moet al 4:30 by die vertrekpunt wees. Adelle is baie opgewonde, maar effens omgekrap oor die vroeg opstaan. Daardie oggend om 02:30 lui Riaan se foon.

Riaan & Adelle Engagementshoot

Dis die lugballon mense en hulle kanselleer ons vlug omdat die wind baie sleg is en dit aanhoudend reën. Die volgende oggend gaan eet hulle ontbyt en Riaan is duidelik gespanne. Sy planne is in die wiele gery en daar was nie ‘n Plan B nie. Hulle gaan verken die plek en bewonder die natuurskoon. Adelle stap oor ‘n bruggie om na die dammetjie te gaan kyk en Riaan weet: Dis nou of nooit! Riaan het die GoPro opgestel om die oomblik vas te vang en na Adelle aangestap gekom. Hy het sy arms om haar nek gesit en gesê dat van die begin van hulle verhouding het nie een van die groot oomblikke uitgewerk soos beplan nie, maar dat hulle deur alle omstandighede die beste van alles gemaak het. Riaan het afgesak op sy knieg en gevra: “Adelle, sal jy my die gelukkigste man op aarde maak en met my trou?”

Die antwoord was natuurlik sonder enige huiwer “JA!”